Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 01 JULIE 2012

U luister na ZS6SRL, die amptelike amateurradiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Vir oudio, gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie, en vorige bulletins kan afgelaai word by www.sarl.org.za en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vandag is (Naam, roepsein) op 145,725 MHz FM vanuit Pretoria, met herleidings op 7 066 en 3 695 kHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos nodig)

IN DIE NUUS VANDAG:

EERSTE TOEKENNING VIR AL SUID-AFRIKAANSE RUITVERWYSINGS GEKONTAK VIR 160 m TOEGEKEN

AMATEURS VERLEEN HULP AAN SEILJAG MET PROBLEME

LEER HOE OM SELF HF-VOORSPELLINGS TE DOEN

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

EERSTE TOEKENNING VIR AL SUID-AFRIKAANSE RUITVERWYSINGS GEKONTAK VIR 160 m TOEGEKEN

Die Sandton Amateurradioklub kondig graag aan dat die eerste sertifikaat vir kontakte met 25 ruitverwysings op 160 m toegeken is aan Lukas Holtzhausen, ZS6LH. Pierre, ZS6BB, nou ZS6A, hou nog steeds die rekord as die enigste persoon met n kontak in al die 83 ruitverwysings in Suid-Afrika en niemand het dit nog vir 'n spesifieke groep bereik nie. Die doel van hierdie toekenning is om enige gelisensieerde radioamateur in 'n pretaktiwiteit te betrek om ten minste een kontak in elk van die vierkarakter Maidenhead ruitverwysings te maak. Suid-Afrika word gedek deur 83 ruitverwysings, en sommige van hulle kan van aangrensende gebiede gewerk word. Die reëls vir hierdie toekenning kan gevind word op die Sandton Amateurradioklub se webwerf www.zs6stn.org.za.

AMATEURS VERLEEN HULP AAN SEILJAG MET PROBLEME

Indien niks anders help nie, is amateurradio daar. David Ogg M0OGY, was in QSO met Ian, VK3MO, in Australië via die langpad oor byna 24 000 km. Later in die QSO hoor hy 'n brekerstasie wat blyk AI4FH te wees, maritieme mobiel, naby die kus van Spanje, wat sy mas en seile in 'n kwaai storm verloor het. Hy vra vir hulp d.m.v. amateurradio. David het die hele episode verfilm en plaas dit op YouTube. Hy sê “Dit wys jou net, selfs in hierdie moderne tye, wanneer alles faal, is amateurradio daar.” Die oudio kan gevind word op www.sarl.org.za, klik op die koppeling vir Amateur Radio Today.

LEER HOE OM SELF HF-VOORSPELLINGS TE DOEN

U kan by die SARL se Radio-in-Aksie simposiums leer hoe om self HF-voorspellings te doen. Hannes Coetzee, ZS6BZP, sal praat oor die eienaardighede van ionosferiese voortplanting en die VOACOP program vir frekwensievoorspellings demonstreer. Daar sal 'n laserskyf aan afgevaardigdes verskaf word en Hannes sal verduidelik hoe om die program op tuisrekenaars op te stel.

Die eerste simposium sal op 21 Julie in Durban by die Universiteit van Natal aangebied word. Die verrigtinge begin om 09:00 met registrasie reeds om 08:30. Die volle program is verkrygbaar by die SARL se webtuiste nl. www.sarl.co.za, en RTA te kies. Datums vir opvolgende RTA’s is: Gauteng 18 Augustus; Port Elizabeth 1 September; Kaapstad 29 September.

DXCC LESSENAAR KEUR SEWE BEDRYWIGHEDE GOED VIR KREDIET

Gedurende Junie het die DXCC sewe bedrywighede vir DXCC-krediet goedgekeur. Op 21 Junie is die 2012 TT8ES- (Tsjaad) bedrywigheid, die XX9E- (Macao) bedrywigheid en die 2011 TL9EL- (Sentraal-Afrikaanse Republiek) bedrywighede goedgekeur. Op 25 Junie is die 2012 XW4XR- (Laos) bedrywigheid goedgekeur. Op 26 Junie is die 2010 J28RO- (Djibouti), die 2011 J25DXA- (Djibouti) en die 2012 5X1RO- (Uganda) bedrywighede goedgekeur. “Indien jy kaarte het wat onlangs vir hierdie bedrywighede verwerp is, stuur asb. 'n e-pos aan die ARRL DXCC lessenaar,” het Moore gesê. “Let asb. daarop dat dat te wyte aan baie e-posse, mag dit wees dat DXCC-personeel dalk nie spoedig op u e-pos reageer nie. Sodra u rekord opgedateer is, sal resultate in die Logboek van die Wêreld (LoTW) of in die lewendige, daaglikse ‘DXCC Standings’ verskyn. Weens 'n rugsteun op DXCC e-pos, sal DXCC-personeel verbeterings aan rekords aanbring, maar sal nie direk op boodskappe hieroor reageer nie. Moore het gesê dat die logstate vir J28RO- en 5X1RO-bedrywighede na LoTW opgelaai is.

KOM NEEM IN DIE NARS DEEL AAN DIE IARU HF-KAMPIOENSKAP

Die Hoë Frekwensie Wêreldkampioenskap 2012, aangebied deur die Internasionale Amateurradio-unie, duur van 12:00 UTC op Saterdag 14 Julie tot 12:00 UTC Sondag 15 Julie. Die doel van hierdie kompetisie is om met so veel as moontlik ander amateurs kontak te maak, veral IARU-ledelande wêreldwyd se hoofkantore. Die bande 160, 80, 40, 20, 15 en 10 m word gebruik. Die SARL wil graag sy stasie by die NARS op die lug plaas en is op die uitkyk vir vrywilligers om die stasie vir die volle tydsverloop te beman. Hierdie is 'n gulde geleentheid vir ervare kompetisiedeelnemers om aan nuwelinge te toon hoeveel pret kompetisies is. Indien u belangstel, stuur hierdie week nog 'n e-pos aan contest@sarl.org.za en u sal gekontak word.

DIE SARL SE DX-REKORD VIR BHF, UHF EN MIKROGOLWE WORD OPGEDATEER

Die huidige SARL DX rekord tafel vir VHF, UHF en Mikrogolwe sal opgedateer word na 30 Junie 2012. Alle VHF amateurs regoor die land word uitgenooi om hul rekord eise vir 50, 70, 144, 432, 1 296 en 2 300 MHz of 'n mikrogolf-rekords wat hulle gemaak het gedurende die afgelope jaar of vroeër in te dien. Om uit te vind of jy kwalifiseer vir 'n rekord besigtig die 2011-rekordtabel deur te klik op Algemene Info op die tuisblad van die SARL, gevolg deur die plaaslike inligting en dan VHF, UHF, SHF, EHF SA. Die top vyf rekords van elke kategorie word gelys. Jy kan jou eise plaas op die VHF forums, of ZSVHF mailman-lys of e-pos dit aan mcbosch@webafrica.org.za.

SOEK U 'n KG 10 RUITVERWYSINGS?

Dennis, ZS4BS, sal van 6 tot 8 Julie in die Noord-Kaap op reis wees, die meeste van die tyd in KG10. Reisend, sal hy op 40 en 30 meter bedrywig wees en stilstaande sal hy ook op 80 m kan gesels.

Indien u 'n kontak in KG 10 benodig, kontak Dennis met e-posadres zs4bs@iaru-r1.org om 'n afspraak te reël.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die sonaktiwiteitsvlak gematig is. Sonvlekke 1 512 en 1 513 huisves genoeg energie vir M-klas fakkels.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 47.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 20 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl 15 m net 'n kortkop agter behoort te wees. As gevolg van die laer sonaktiwiteit gaan 10 m-openinge skaars wees en dit sal meestal op Oos-Wes paaie voorkom.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE
6/8 Julie – Dennis, ZS4BS, is mobiel in KG10. Kontak hom per e-pos na zs4bs@iaru-r1.org om 'n afspraak met hom te reël indien u hierdie ruitverwysing in i logboek benodig.
14/15 Julie – IARU HF-kampioenskap, reëls beskikbaar van tinyurl.com/iaru-hf-championship. Stuur e-pos dadelik aan contest@sarl.org.za indien u die stasie wil bedryf.
21 Julie – RTA in Durban, program by www.sarl.org.za vroeg volgende week.

SARL-nuus nooi klubs en individue om nuusbrokkies, waarin radioamateurs en kortgolfluisteraars sal belangstel, in te stuur na www.sarl.org.za/newsinbox.asp Stuur dit - indien moontlik - in Engels sowel as Afrikaans, nie later as die Donderdag voor die uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program "Amateur Radio Today", wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz. Daar is ook 'n "podcast"-uitsending deur Dick ZS6RO. Besoek www.sarl.org.za vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS. Klik op 'Amateur Radio Today', gaan af op die groen kolom en klik op 'LISTEN ON THE WEB'. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 17:30 UTC op 4 895 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings wat nie op amateurfrekwensies uitgesaai word.

U het geluister na 'n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur deur George Honiball, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het. 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003